Hedendaags word die korrekte benadering jeens ander godsdienste gepropageer as dié van verdraagsaamheid. Daarmee word gepoog om aan elke godsdiens bestaansreg te verleen. Verder word gepoog om elke godsdiens in eie reg te verstaan, dus sonder vooroordele. Die benadering het egter ’n ander moontlik onverwagte aspek na die voorgrond gebring, naamlik dat daar ook ooreenkomste tussen verskillende godsdienste bestaan. Wat die saak meer interessant maak is dat van hierdie ooreenkomste sake is wat vroeër as eksklusief behorende tot die Christendom beskou is. Een so ’n interessante ooreenkoms word aangetref wanneer die sogenaamde geestelike ervarings wat gepaard gaan met die ‘Toronto Blessing’ in die Charismatiese beweging vergelyk word met die gepaardgaande ervarings van die ‘Kundalini Awakening’ in Hinduïsme. Hierdie ooreenkoms bring onvermydelik ’n skaduwee oor die aanspraak van sommige van die Charismate dat die ervarings van die ‘Toronto Blessing’ verklaar kan word as uitsluitlik die werk van die Heilige Gees binne ’n Christelike konteks. In hierdie studie word dit ondersoek of hierdie ervaringe wat deel vorm van die Toronto Blessing, beskou kan word as eksklusief behorende tot die Christendom, of is dit ervarings wat aangebring word deur die toepassing van sekere menslike tegnieke. Die konklusie waartoe in hierdie artikel gekom word, is dat die ervaringe van die Toronto Blessing nie eenvoudig allesinsluitend toegeskryf kan word aan die werk van die Heilige Gees nie